Vyhľadávací formulár

Handelinge 20

Paulus gaan na Masedonië en Griekeland

1Die mense in die stad Efese het geskree en geraas, en toe hulle ophou, het Paulus die *gelowiges laat roep en hy het hulle *bemoedig. Toe het hy hulle gegroet en hy het na die provinsie Masedonië gegaan. 2Hy het deur die provinsie Masedonië gegaan en hy het die gelowiges baie bemoedig. Hy het verder gegaan totdat hy in Griekeland gekom het 3en hy het drie maande lank daar gebly. Hy het besluit om met die skip na die provinsie Sirië te seil, maar hy het gehoor dat die Jode ’n geheime plan gemaak het om hom dood te maak. Daarom het hy besluit om deur Masedonië terug te gaan na Sirië.

4Hierdie manne het saam met Paulus gegaan: Sopater, die seun van Pirrus van die stad Berea, en ook Aristargus en Sekundus, hulle was twee gelowiges van die stad Tessalonika, ook Gaius van die stad Derbe, en Timoteus en twee gelowiges van die provinsie *Asië, hulle name was Tigikus en Trofimus. 5Party van hulle het eerste gegaan, en hulle het vir ons gewag in die stad Troas. 6Nadat die *Fees van die Ongesuurde Brood verby was, het ons met die skip weggeseil van die stad Filippi. Nadat ons vyf dae geseil het, het ons in die stad Troas aangekom, die ander manne was al klaar daar. Ons het sewe dae lank daar gebly.

Paulus in Troas

7Op die eerste dag van die week het ons in die aand bymekaargekom en ons het almal saam geëet. Paulus het met die *gelowiges gepraat. Hy wou die volgende dag verder gaan en daarom het hy baie lank gepraat, hy het gepraat tot in die middel van die nag. 8Ons was almal bymekaar in die bo-kamer, en daar het baie *lampe in die kamer gebrand.

9Eutiges, ’n jongman, het in die venster gesit en luister. Toe Paulus baie lank aanhou praat, het Eutiges baie vaak geword en hy het aan die slaap geraak. Eutiges het so vas geslaap dat hy uitgeval het by die venster. Hy het van die tweede verdieping tot op die grond geval. Toe die mense hom optel, was hy dood.

10Paulus het afgekom na onder en hy het op Eutiges gaan lê. Hy het sy arms om Eutiges gesit en gesê: “Julle moenie so hard huil en treur nie! Hy is nie dood nie, hy lewe.”

11Toe het Paulus weer boontoe gegaan. Nadat hy geëet het, het hy nog ’n lang tyd met die gelowiges gepraat, hy het gepraat tot dit oggend geword het. Toe het hy verder gegaan. 12Die gelowiges het die seun weggeneem, hy het gelewe. Dit wat gebeur het, het die gelowiges baie *bemoedig.

Paulus en sy vriende reis van Troas na die stad Milete

13Ons het voor Paulus met die skip na die stad Assus geseil. Ons wou vir Paulus by Assus oplaai. Paulus het gesê ons moet dit doen, want hy wou self oor die land na Assus gaan. 14Toe Paulus ons in Assus ontmoet, het ons hom opgelaai en na die stad Mitilene geseil. 15Ons het van Mitilene verder geseil en die volgende dag was ons oorkant die eiland Chios. Die volgende dag het ons verby die eiland Samos gegaan en die dag daarna het ons by die stad Milete aangekom.

16Ons het nie met die skip by die stad Efese gestop nie, want Paulus het besluit dat ons verby die stad Efese moet gaan, hy wou nie in die provinsie *Asië bly nie, want dan sou dit te lank wees voordat ons in Jerusalem kom. Hy was haastig om in Jerusalem te kom. Hy wou graag op die dag van die *Pinksterfees in Jerusalem wees.

Paulus praat met die ouderlinge van Efese

17Toe ons in die stad Milete was, het Paulus ’n boodskap na die *ouderlinge van die gemeente in die stad Efese gestuur. Hy het vir hulle gesê hulle moet na hom toe kom in Milete. 18Toe hulle by Paulus kom, het hy vir hulle gesê: “Julle weet wat ek alles gedoen het, die hele tyd van die eerste dag af toe ek in die provinsie *Asië gekom het. 19Julle weet dat ek die Here gedien het, dat ek baie *nederig was, dat ek baie gehuil het en dat ek baie swaar gekry het omdat die Jode geheime planne gemaak het om my dood te maak. 20Julle weet dat ek altyd dinge gedoen het wat vir julle gehelp het. Ek het vir julle vertel van God se boodskap en ek het vir julle geleer, ek het dit gedoen waar almal dit kon sien en ek het dit ook in julle huise gedoen. 21Julle weet dat ek ernstig gepraat het met Jode en ook met Grieke. Ek het vir hulle gesê hulle moet verander en hulle moet lewe soos God wil hê. En ek het vir hulle gesê hulle moet glo in ons Here Jesus.

22“Nou gaan ek na Jerusalem, want die Heilige Gees wil hê ek moet daarnatoe gaan, en ek is gehoorsaam aan die Heilige Gees. Ek weet nie wat in Jerusalem met my sal gebeur nie. 23Maar ek weet die Heilige Gees sê in elke stad vir my dat mense my in die tronk sal gooi en dat hulle my baie swaar sal laat kry. 24Maar ek is nie bekommerd oor my eie lewe nie, ek is niks bekommerd nie. Ek wil net een ding doen, ek wil my werk klaarmaak. Dit is die werk wat die Here Jesus vir my gegee het om te doen. Ja, ek moet vir mense die goeie boodskap bring dat God *genadig is.

25“Ek was by julle en ek het vir julle gepreek en gesê dat God Koning is. Maar nou weet ek dat niemand van julle my weer sal sien nie. 26Daarom sê ek nou vir julle, en dit is waar: Dit is nie my skuld as een van julle *verlore gaan nie, 27want ek was nie bang nie, ek het vir julle alles van God se plan vertel. 28Julle moet seker maak dat julle lewe soos God wil hê. Julle moet ook seker maak dat al die *gelowiges lewe soos God wil hê. Die Heilige Gees het gesê julle moet ouderlinge wees van daardie gelowiges. Julle moet hulle oppas soos ’n *herder ’n trop skape oppas. Hulle is God se kerk. Sy Seun het gesterf, en so het God hulle gekoop. 29Ek weet dat daar *vals leermeesters na julle toe sal kom wanneer ek weg is. Hulle sal wees soos wrede wolwe wat ’n trop skape doodmaak. 30Ja, party van julle sal self begin om verkeerde dinge te sê, en hulle sal probeer om die gelowiges die verkeerde dinge te laat glo wat húlle glo. 31Daarom moet julle versigtig wees. Julle moet onthou dat ek drie jaar lank baie swaar gekry het en dat ek elke dag en elke nag vir julle almal geleer het om reg te lewe, ek het nooit opgehou om dit te doen nie.

32“En nou bid ek en ek vra vir God dat Hy vir julle moet sorg en dat julle altyd die boodskap sal onthou dat God genadig is. Daardie boodskap kan julle geloof sterk maak en dit kan julle help om te weet dat God vir julle die dinge sal gee wat Hy belowe het om vir al die gelowiges te gee.

33“Ek wou nooit iemand anders se silwer of goud of klere hê nie. 34Julle weet self dat ek met my eie hande gewerk het om vir myself te sorg en ook vir die mense wat saam met my was. 35Ek het dit alles gedoen, want ek wou vir julle wys dat ons so moet werk om vir die mense te help wat swak is. Ons moet ook onthou wat die Here Jesus self gesê het. Hy het gesê: ‘As ’n mens vir ander mense iets gee, dan is jy baie méér gelukkig as wanneer hulle vir jóú iets gee.’ ”

36Nadat Paulus klaar gepraat het, het hy saam met al die ouderlinge gekniel en gebid. 37Toe het almal baie gehuil en hulle het hulle arms om Paulus gesit en hom gesoen. 38Hulle was baie hartseer omdat Paulus gesê het dat hulle hom nie weer sal sien nie.

Toe het hulle saam met hom tot by die skip geloop.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index